Vir nog ʼn rukkie*

Vir nog ʼn ruk
Of dalk net ‘n rukkie
Hang dit in die lug

Ontelbare gedagtes
trek deur die land
Oor dooies
isolasie
stilstand
hongersnood
soms selfs hoop

Sigbaar vir hulle wat weet
Vir ander al meer ontwykend
Onaantasbaar
Maar dit is daar
En dit hyg in my nek

Dit is grotesk en selfsugtig
‘n Raka in statuur
Dit slaan oral toe
Neem niemand in ag nie
Genadeloos
En tog soms nie

Ek kyk om my heen
Staar selfs in die verte
Maar sien niks
Dit het my nie gewaar nie
My oorgeslaan

Dalk vir ‘n ruk of ‘n rukkie

– AS de Beer

(* ʼn Verwerking, asook ‘n vertaling, van Annechien Willering se Voor even 2020 deur AS de Beer.) 

Voor even

Ik zou moeten werken
Maar mijn hoofd werkt niet mee
Talloze gedachten
Over doden
Isolatie
Stilstand
Financiën

Het is ongrijpbaar
Onzichtbaar
Lijkt onaantastbaar
Maar het is er wel
En het hijgt in mijn nek

Het is groot en zelfzuchtig
Een tiran van formaat
Het slaat toe
Houdt nergens rekening mee
Genadeloos
En soms ook weer niet

Wanneer, dat weet je niet
Je kan alleen maar bidden
en hopen
Dat het jou niet ziet
En overslaat

Ik staar in de verte
Maar zie niets
Behalve vogels
Druk met hun nest
Een dartelend veulen in de wei
Grazende schapen in de verte
En het kabbelende water

Hier aan de IJssel
Bestaat het niet
Kan ik vergeten
En de realiteit negeren
Voor even

– Annechien Willering

Vir ʼn wyle

Ek moet eintlik werk
Maar my kop werk nie saam nie
Tallose gedagtes
Oor dooies
Isolasie
Stilstand
Geldsake

Dit is ongrypbaar
Onsigbaar
Lyk onaantasbaar
Maar dit is daar
En dit hyg in my nek

Dit is groot en selfsugtig
ʼn Tiran van formaat
Dit slaan toe
Hou met niks rekening nie
Genadeloos
En soms weer ook nie

Wanneer, dit weet jy nie
Jy kan maar slegs bid
en hoop
Dat dit jou nie sien nie
Jou oorslaan

Ek staar in die verte
Maar sien niks
Behalwe voëls
Bedrywig met hul neste
ʼn Huppelende vul in die veld
Skape wei in die verte
En kabbelende water

Hier aan die Ijssel
Bestaan dit nie
Kan ek vergeet
En die realiteit ontken
Vir net ʼn wyle

– Annechien Willering
Vertaling: AS de Beer